[ Back to previous page ]

Rapport : Berig 28/10/2015 Date : 19 October 2015

Waar of wolhaar: Staat suig duim oor waarde van landbou

Sondag 18 Oktober 2015 05:50

 

​Die departement van landbou, bosbou en visserye het onlangs ’n verslag gepubliseer waarin hulle die waarde van kommersiële landbou in Suid-Afrika op R192 miljard stel.

Die dokument bereken ook dat lewende hawe R110 miljard werd is en voertuie en implemente R57 miljard. Dit beteken dat die totale kapitaalwaarde van alle kommersiële plase in die land R359 miljard is – ongeveer net soveel as wat die selfoonmaatskappy MTN werd is.

Kan dit waar wees?

Die sakewebblad Moneyweb het Petrus Viljoen, hoof van die Agri Land Group, een van die grootste waardeerders van landbougrond in die land, gevra om ’n waardasie van landbougrond in Suid-Afrika te doen.

Viljoen bereken dat daar sowat 96,38 miljoen ha kommersiële plaasgrond in die land is met ’n totale waarde van R2 580 miljard – meer as tien keer die waarde wat die regering daaraan gee en twee keer soveel as die markkapitalisasie van SABMiller.

Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement van landbou­ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, bereken op sy beurt dat landbougrond in die land sowat R2 000 miljard werd is.

Kirsten reken voorts dat die amptelike waardasie van lewende hawe (R110 miljard) en implemente en voertuie (R57 miljard) niks meer as ’n duimsuiery is nie.

Dit laat ook die vraag hoe akkuraat die regering se ander landboustatistieke is. Hoeveel grond is byvoorbeeld aan swart grondeienaars oorgedra? Mediaramings wissel van 7,95 miljoen tot 9,4 miljoen ha, maar dit verteenwoordig net grond wat deur die regering herverdeel is en nie landbougrond wat op die ope mark aan swart eienaars verkoop is nie.

Sommige reken dat daar tot soveel as 18 miljoen ha landbougrond op die vrye mark in swart hande beland het, wat in teorie die hele grondhervormingsdebat fundamenteel kan verander.

Grondhervorming is emosioneel genoeg soos dit is, maar met beter inligting, beleid en prosedures kan baie van die emosie uit die weg geruim word, skryf Moneyweb

■ Met vergunning van moneyweb.co.za.

http://www.netwerk24.com/stemme/2015-10-18-waar-of-wolhaar-staat-suig-duim-oor-waarde-van-landbou

[ Back to previous page ]